Blomme

 

Tuis|HomeWoudeOlifantePrimatePatagoniŽRotseKapibaraVoŽlsReptieleTroeteldiereHondeKatteSeisoeneWeerTuineBomeBlommeRoseTulpeLeliesInsekteAnder

Gratis Advertensies          Free Ads

 

 Opgedateer: 11 Januarie 2014 ** Updated: January 11, 2014

Soek in hierdie webwerf  

 

Blomme, Tierlelie
     Groter weergawe

Blomme

Blommegalery

Blomme vorm 'n belangrike deel van plantlewe en bly nog een van die groot wonders van die natuur. Daar is ook blomlose plante soos mossoorte, varings en  ligene, maar daar bestaan duisende ander soorte wat pragtige en besondere blomme dra. Sommiges groei en dra binne 'n seisoen hul blomme en staan bekend as eenjarige blomme, ander plante soos meerjarige struike dra jaar na jaar blomme in hul bepaalde seisoen.

 

Daar is ook unieke plante wat selde blom, soos bv. die blou Brasiliaanse Amyrillis (Empress of Brazil) wat glo net om en by elke 57 jaar blom. Party orgideŽ se blomtye is ook ver uit mekaar. Dan is daar ook woestynplante soos die eeuplant (Agave) wat net een keer in sy leeftyd blom. Dus dit neem ongeveer 25 na 30 jaar om te blom en vrek dan kort na die blomperiode. Nog 'n plant wat lank neem om te blom is die koningin van die Andes. Hierdie plant neem tussen 80 en 125 jaar voor dit blom, dis te sÍ as dit in sy natuurlike omgewing is. Lees meer oor hierdie rare plant met die botaniese naam Puya raimondii by San Francisco se Botaniese Tuin.

Bome, rankers, struike, lelies, jaarplante, rotstuin of sg. vetplante en huisplante dra meestal almal pragtige blomme. Veldblomme kom nog in groot dele van die wÍreld se park-areas voor en ander gewilde blomsoorte, soos bv. angeliere, word dikwels in kweekhuise, tuine en in huishoudings gekweek en versorg.

Sommige plante soos rose, vaar beter wanneer 'n steggie gebruik word, maar andere soos die Namakwalandse Madeliefies, pronkertjies, Jakobregop's (Zinnia) en kappertjies kan baie maklik met sukses van saad af gekweek word.

Blomme en die gebruik van blomme is al vir eeue aan die gang. Daar is afbeeldings van blomme op suile van antieke stede en op ruÔnes gevind en beide die Ou en Nuwe Testament noem oa lelies. Hoewel blomme hoofsaaklik vir versierings gebruik word, het blomme ook simboliese en praktiese doel.

So dra sekere blomme simboliese betekenis wat ons aan Bybelse temas laat dink. Daar is plante met name soos: Jesuskroon, in Engels genoem "Crown of thorns" (Euphorbia milii), wat geel, maar ook helder rooi, blomme dra. Hierdie plante kan in die mees haglikste omstandighede en klimate oorleef. Dan is daar die blom van die ranker-vrugplant, die granadilla (ook bekend as grenadella, "passion fruit") en ander blomme soos die purperwinde ("Morning glory"), wat ook bekend staan as Maria se mantel, die 10-gebooieplant, asook die Madonnalelies, ook genoem St Josefslelies, wat met Paasfees geassosieer word.

Gedurende die Victoriaanse tyd het simboliek van blomme (blomme-boodskappies) 'n hoogty gevier. Klein handruikertjies, bekend as Tussie-Mussies is gretig as geskenkies gegee. Die ruikertjie was toegevou in 'n kant-doilietjie en vasgebind met 'n satynlintjie. Die soort blommetjies waaruit die ruikertjies bestaan het, het dan die simboliek van die boodskap uitgedra.

Blomme van veral kruiesoorte, word gebruik as geneesmiddels en dit is ook bekend dat sommige blomme eetbaar is en deel kan uitmaak van disse. Die blomme van roosblare,  appelbloeisels, en viooltjie-soorte, kan dien as pragtige nagereg- of koekgarnering. Die Romeine het bv. aan hul vleis- en slaaidisse smaak verleen deur die gebruik van gousblomme (Calendula) gemeng met asyn. Gevulde pampoenbloeisels is 'n gunsteling by sommige Romaanse bevolkings en waterblommetjiebredie is 'n bekende Suid-Afrikaanse dis.

Nie alle blomme en plante is eetbaar nie. Party is uiters giftig. In hierdie groep is daar oa Asaleas, Caladium, Varkore (Calla) lelies, die pragtige en veelsydige Lemoenklimop (Clematis), Affodille, Pronkridderspoor (Delphinium), Jasmyn, Lantana, Lelie-van-die-veld (Convallaria majalis), die bekende huisplant Philodendron, Alperoos of Rododendron, Pronkertjies, BloureŽn (Wisteria) en die Brunfelsia (Gister-vandag-en-mŰre-struik) met sy baie-baie soet reuk, om maar net enkeles te noem.

Blomme het groot byval gevind by ou beskawings en kulture. Die Chinese het krisante (Chrysanthemums) so lank as 2500 jaar, voor dit in Europa begin bekend word het, in hul koninklike tuine gekweek. Tesame met die kersie, bamboes en orgidee, was dit so hoog aangeslaan dat die sg. laer klasse verbied was om die plante in hul eie tuine te kweek.

'n Blomsoort wat amper soos die krisant lyk, maar van 'n heel ander wÍrelddeel kom, is die Dahlia. Die Dahlia was bekend by die Asteke vir medisinale eienskappe en dit is vandag die nasionale blom van Mexiko. Hierdie blomgroep varieer in grote en kleur en word veral in kweekhuise geproduseer. Sommige soorte Dahlias is afkomstig uit Guatemala. Hierdie groep blomme kry hul naam vanaf die Sweedse botanikus Dr. Anders Dahl en daar is tans ongeveer 20 verskillende spesies.

Delphiniums was gebruik deur Indiaanse bevolkings aan die weskus van die Amerikaanse kontinente vir blou kleursel en die Europese setlaars in die Amerikas het dieselfde blom gebruik om ink te maak vir skryfdoeleindes.

Nog 'n pragtige regop soort blom, soos die Delphinium, is die Swaardlelies (Gladiolus). In die 18de eeu is baie van hierdie besondere blomme vanuit Suid-Afrika na Europa uitgevoer. Diť blomme voer nog steeds die botoon waar indrukwekkende ruikers geskep word vir koninklike of ander amptelike geleenthede. Die variante wat nou deesdae op die mark te siene is, is pragtig en selfs 'n leek kan diť mooi blomme aan die groei en blom kry.

Irisse is nog 'n baie besondere groep. Daar is soveel soorte en party van hulle kan ook in dele waar dit moerasagtig of nat is, geplant word. Die Afrikaanse name vir 'n aantal van die blomme in hierdie groep is baie mooi. Daar is bv name soos: kammetjies, ferweeltjie, aandblomme, bobbejaantjies, pypies en kalkoentjies. As Irisse ter sprake kom, dink mens onvermydelik ook aan die geskiedenis waar die Fleur-de-Lis deel van die Franse koning (Philip 1) van die 11de eeu se embleem uitgemaak het.

Verskeie variante van Fleur-de-Lis pryk deesdae nog op baie heraldiese wapens en vlae soos diť van Quebec, Louisville (Kentucky), New Orleans (Louisiana), die Boy Scouts van Amerika, Laöko (Slovenia) en die flambojante rooi heraldiese wapen van Florence in ItaliŽ.  Simboliese betekenis soos geloof, hoop en wysheid word aan die Iris gekoppel. Vir meer inligting besoek Anthem Flag.

Lelies is een van die mees indrukwekkende groepe wat asemrowende blomme dra. Lede in hierdie groep is Haworthia, aalwyn (Aloe), Kniphofia (vuurpyl) en bulbine (katstert) Dan is daar ook oa die lede van die Amaryllis-familie, soos die Maartlelie (Amaryllis belladonna), die Nerina (Narine sarniensis) en die baie besonder Clivia Nobilis. Lees meer oor lelies by: Lieflike Lelies

Tulpe het ontsaglik baie soorte en kleure met 'n heerlike geskiedenis van ontwikkeling. Lees meer hieroor by Top Tien Tulpe.

Rose was en is en bly een van die mees geliefde blomsoorte en is vandag se dae nog meer gewild as ooit te vore. By troues, feesvier-tye, die geboorte van 'n kind, verjaardae en natuurlik ook by spoggeleenthede. Rose was baie deur die Romeine gebruik en roosblare was oral gestrooi vir feesgeleenthede. In die Middeleeue was daar die gebruik om 'n roos aan die plafon te hang by 'n raadsvergadering. Dit het beteken dat almal teenwoordig tot geheim gedwing word, ook bekend as "sub Rosa", wat beteken, "onder die roos". Lees meer by Romantiese Rose.

Die orgidee verdien melding. Diť rare blomme jaag versamelaars duisende rande uit die sak en die plante se besondere blomme maak hulle al hoe meer gewild. VroeŽr was orgideŽ plante wat net deur versamelaar en kenners gekweek is, maar deesdae word al hoe meer van hierdie besondere blomme deur die publiek aangekoop en as spogplante in huise vertoon.

Fuchisas word deesdae ook baie gewild. Hierdie plante se blomme varieer, maar baie lyk soos ballerinas met wye rokkies. Die kleure is meestal pienk, ligpers en rooi, maar sagte ligroos en wit is ook te kry.

Die gewildheid en veelsydigheid van blomme word oral gesien in kulture. Of dit nou papawers, botterblomme, kappertjies, gousblomme, ranonkels, gesiggies, viooltjies, of afrikanertjies is, of unieke blomme soos die Babertonse madeliefies, strelitzias, anemone, asaleas, hiasinte, tierlelies, pronkertjies, akelei (aquilegia), agapanthus of swaardlelies. Blomme word oral in huise en tuine aangetref. Vanaf die pragtige blomkersiebome en magnolias, tot rankers soos die besondere wasplant (hoya), die jasmyn, bougainvillea of wisteria en tot die fynste grondbedekkertjies soos die alyssums of rotsjasmyn (androsace) bly geliefd.

Persone gebruik dit in digkuns, beeldende kunste en musiek. Sommiges gee hul dogters blomname soos Aster, Iris, Rosa of Rose, Daisy, Lily, Violette of Violet en Lila. Blompatrone word geborduur, gehekel, gebrei en op materiale ontwerp of geverf. Blomme word gedroog vir potpourri of gepars vir kaartjies of prente. Daar is pragtige teken- en skilderwerk van veldblomme, botaniese werke, sowel as kunswerke en daar is keramiek, porselein en tapisserieŽ, almal versier met blompatrone.

Blomme is 'n heerlike geskenk, kan bydra tot vertroosting, maak die hart bly as die liggaam moeg of siek is en vul die lug met heerlike geure. Blomme bly 'n lus vir die oog en 'n vreugde vir die hart.

 

Blommegalery

Kliek op foto's vir groter weergawes
 

Strelitzia
Strelitzia

Blomme: Angeliere in blompot
Angeliere

Blomme: Babertonse madeliefies
Babertonse madeliefies

Blomme: Stokrose
Stokrose

       

Namakwalandse madeliefies
Namakwalandse madeliefies

Blomme: Impatiens
Impatiens


Fuchsia

Blomme: Petunias
Petunias

       

Hortensia
Hortensia

Blomme: Malvas
Malvas

Hibuscus
Hibuscus

Veldblomme
Veldblomme

       

Terug na ADSA

 

 

Tuis|Home
Woude
Olifante
Primate
PatagoniŽ
Rotse
Kapibara
VoŽls
Reptiele
Troeteldiere
Honde
Katte
Seisoene
Weer
Tuine
Bome
Blomme
Rose
Tulpe
Lelies
Insekte
Ander

Tuis|HomeWoudeOlifantePrimatePatagoniŽRotseKapibaraVoŽlsReptieleTroeteldiereHondeKatteSeisoeneWeerTuineBomeBlommeRoseTulpeLeliesInsekteAnder

Die mens en sy dinge

Rekenaarwenke

ADSA Werfkaart | ADSA Site Map

     
ADSA Free Ads * ADSA Gratis Advertensies

arkpark.net

dieknoop.info

piazza

 

ADSA Advertensie-Diens vir die Christelike gemeenskap (engeltjie en hondjie)

 Bekering

Download Bibles

Bybels vir Aflaai

 

ADSA vir Klein Advertensies

ADSA © 1998-2014
Verontskuldiging ** Disclaimer

ADSA for Small Ads