|
Honde neem waarskynlik eerste plek in as keuse vir 'n
troeteldier en die veelsydigheid van rasse is oorweldigend. Honde varieer in grootte vanaf
die groot rasse, soos die Engelse Mastiff, die Great Dane en die Ierse Wolfhond, tot die
skootsitter-brakkies, soos die Chihuahua, 'n Meksikaanse ras, die Papillon, die
Pomeranian, die Yorkshire Terriër en talle ander. Sommige soorte het
gladde hare waarvan die Windhonde, Bul Terriër en Wolfhonde deel vorm. Ander soorte het
krulhare soos die Poedels en Bedlington Terriërs. Nog ander het mooi lang en sagte hare
soos die Maltese, Labradors en Kolliehonde.
Party honde het spitsgesigte soos die Keeshond, Samoyed, Husky en die
Foksterriërs en ander het plat gesigte soos die Pug en Bulhonde. Daar is ook die wat
koddig kort op die bene is, soos die Dachshund (beter bekend in die volksmond as
Worshondjies), Welsh Corgi's of die Skotse Terriërs. Die Chow-Chow's het die besondere
kenmerk van hulle blou tonge en daar is selfs 'n ras wat byna geen hare het nie (Chinese
Crested Dog), wat al sedert die Hang-dinastie bekend is en die Chinese Sjarpei, wat lyk
asof sy vel oral rimpel en om hom vou soos 'n los kombers.
Daarby het talle honde, benewens die feit dat hulle waarde toevoeg tot hul
eienaars se lewens, ook nog nut as deel van die sg. werkersklas of hulphonde. Dit is is
veral hul goeie reuk- en sig- sintuie wat hulle so bruikbaar maak op hierdie terrein. In
die werkersgroep vind mens die gidshonde wat hulp verleen aan blindes, maar ook ander
hulphonde wat aan dowes of ander gestremdes hulp gee. Toetse deur navorsers het ook
getoon dat pasiënte se bloeddruk byvoorbeeld daal as hulle 'n hond streel en vandaar die
gebruik van terapie-honde by pasiënte.
Duitse Herdershonde (Alsatians), Bloedhonde, Doberman Pinchers, Rottweilers en
andere word deesdae baie goed gebruik as polisiehonde, sekuriteits-hulp en as snuffelaars
by ramp- of oorlogsgebiede. Daar word ook honderasse, wat goeie swemmers is, soos
Portugese waterhonde en die Newfoundlanders, by waterreddingswerk aangewend. Die St.
Bernard's is bekend vir hul opsporingswerk tydens sneeustortings. Tydens die vorige eeu is
Dalmatians gebruik saam met brandbestryding. Aanvullend tot die hondewerkers-korps is daar
honde soos die Border Kollie, Bernese berghond, Ou Engelse skaaphond en Belgiese
skaaphond, wat baie goeie wagters of skaap- of ander veeherders uitmaak. Hierby kan ook
sleehonde genoem word, soos die blou-oog Alaska Malamute, waarsonder die volke naby die
Noordpool baie moeilik oor die weg sou kon kom gedurende die vorige eeue. |