|
Troeteldiere
Baie van ons is in die bevoorregte posisie om pragtige en oulike
troeteldiere te hê. Of dit nou goudvissies in 'n akwarium of groot
honde is, troeteldiere bring gewis baie
vreugde in die lewe van hul eienaars.
Daar is eienaardige troeteldiere, maar die meeste mense is tevrede met
honde, katte, kanaries, papegaaie, perde, hasies, marmotte, vissies of
wit muise vir troeteldiere.
Hoewel dit opsigtelik is hoe mense en veral kinders die geselskap van
troeteldiere geniet, is daar ook dieperliggende voordele aan die samesyn
met toeteldiere. So is daar deur wetenskaplikes bepaal dat
wanneer mense wat
gestrem of siek is 'n troeteldiertjie soos 'n hondjie streel, hul
bloeddruk begin daal na 'n meer normale vlak. Die pasiënte is ook meer
ontspanne en glimlag selfs.
|
 |
|
Troeteldiere moet met sorg gekies word en het redelik baie behoeftes.
Die kos moet toepaslik wees, rus of slaapplek moet behoorlik ingerig
wees en sommige diere moet geborsel of geroskam word. Baie vra gereelde
oefeninge, soos om te gaan stap of met 'n bal
te speel. Besoeke aan die veearts is ook belangrik en liefdevolle
versorging op 'n volgehoue basis is van primêre belang. Hoewel
troeteldiere kinders leer om verantwoordelikhede al hoe beter te
bemeester, word dit nie aanbeveel om 'n troeteldier, wat baie versorging
nodig het, vir 'n te jong kind te
gee nie. Slegs as ouers of ouer broers of susters bereid is om te help
met die versorging, kan so iets oorweeg word. Dit is ook uiters nadelig
vir bv. vir klein katjies of hondjies om sommer skeef opgetel te word
deur 'n baba of peuter. Vir beide die troeteldier en die kindjie, want
die diertjie kan dalk byt of krap, omdat hy seerkry. Troeteldiere
vervul ook groot rolle as werkersdiere of geselskapsdiere. So is daar
die honde wat deel van redddingsspanne uitmaak by rampsituasies, honde
wat deel van die polisiemag vorm, of honde wat as gidshonde dien vir
blindes. Daar is ook honde wat ander gestremdes help met hul huishouding, bv.
om items nader te dra. Honde word ook by sommige mense wat aanvalle
kry, gebruik. Blykbaar kan sommige honde die aanloop
tot die aanval waarneem, agv die
verandering in die persoon se asem- of velreuk voor so 'n aanval.
Die hond kan
dus die persoon help om 'n veilige sitposisie in te neem voor die
aanval 'n aanvang neem en voorkom dat die
persoon nie val en seerkry
nie.
Perdry is al deur mense gebruik in gevalle waar persone deur
traumatiese ervarings gegaan het en sukkel om weer sosiaal deel te neem
aan gesprekke. Vriendskappe met perde is bekend vir baie eeue en word
soms by oorlogsverhale gelees, maar die terapeutiese waarde van perdry
en die versorging van die dier word deesdae al hoe meer belig.
Hoewel verhale van hondehelde baie die lig sien, is daar tog ook
verhale van katte wat mense gewaarsku het teen aardbewings,
'n brand in die
huis, of aankomende storms. Daar was ook katte wat hul eienaars wakker gemaak het
toe inbrekers wou probeer kwaaddoen.
Troeteldiere is wonderlik, maar bly 'n baie
groot verantwoordelikheid. Kom ons gee hul die liefde en versorging wat
hulle nodig het. Ons sal beslis beloon word met 'n veel groter
onbaatsugtige vriendskap en liefde as wat ons ooit
self kan gee. |